0722552438

hoof@kiewietnes.co.za

4 Kiewiet St, Brits, 0250

Ma – Vry · 07:00 – 17:00

Algemeen

Welkom aan ons nuwe hoof, Melissa Panayotakis

Beste Kiewietnes-ouers

Ons deel vandag met groot opgewondenheid ‘n baie spesiale nuusbrokkie met ons ouers – ons verwelkom ons nuwe skoolhoof, Melissa Panayotakis, by die Kiewietnes-familie.

Melissa is nie net ‘n ervare opvoeder met’n onderwysgraad en waardevolle ervaring in die klaskamer nie – sy is bowenal iemand met ‘n sagte hart vir kinders. Haar liefde vir klein mensies en haar opregte omgee vir hul groei en welstand is iets wat mens sommer dadelik aanvoel wanneer jy haar ontmoet. Wat hierdie aanstelling nóg meer besonders maak, is dat Kiewietsnes reeds deel van haar storie is.

Haar eie twee kinders, Gabi en Sebastian, het ook hier hul eerste treë gegee. Sy verstaan dus eerstehands hoe kosbaar hierdie fase van ‘n kind se lewe is, en hoe belangrik vertroue tussen ouer en skool is. Dieper as dit alles lê haar geloof – sy leef met die vaste wete dat slegte tye net tydelik is, en dat sy met God aan haar sy enige uitdaging kan aanpak.

Hierdie geloof en hoop dra sy ook oor in hoe sy met kinders, personeel en ouers werk. Melissa leef haar Christelike waardes prakties uit – in hoe sy na kinders kyk, hoe sy na mense luister en hoe sy leiding gee. Haar droom is om ‘n ruimte te help skep waar elke kind veilig voel, raakgesien word en met vreugde kan leer en groei.

Maar wie is Melissa nog, buite die kantoor?

Sy is ‘n mense-mens wat die lewe nie te ernstig opneem nie en glo dat ‘n mens vir jouself moet kan lag.

Haar gunsteling kleur is turkoois, en as jy haar gelukkig wil sien, gee vir haar ‘n goeie boek – veral as sy dit langs die see kan lees. Sy geniet sushi, seekos en (soos meeste van ons!) sjokolade, en raak sommer kinderlik opgewonde oor mooi boeke.

Sy sal egter die eerste wees om vir jou te sê daar is een ding waarvoor sy glad nie lus is nie… slange!

Sy sien baie daarna uit om jou en jou gesin te leer ken. Jy is meer as welkom om enige tyd met haar te gesels – of sommer net by die skool in te loer vir ‘n celod koppie tee. Vir haar gaan dit oor verhoudings bou en saam met ouers ‘n pad stap.

Ons glo dat Melissa ‘n kosbare toevoeging tot Kiewietnes is, en ons sien uit na hierdie nuwe hoofstuk saam met haar, julle en al ons kinders.

Leave a Comment